SUIDOOSTERFEES: 'N FEES VIR ALMAL

Die Suidoosterfees (SOF), geleë in die stadsentrum van Kaapstad, is nou in sy 17de bestaansjaar en vind vanaf 27 April tot 3 Mei 2020 plaas. Kunstefeeste en ander soortgelyke projekte het in die afgelope paar jaar toenemend gewildheid verwerf. Die behoefte om inklusiewe teaterkultuur op te hef en soomloos te bevorder, het in 2003 aanleiding gegee tot die Suidoosterfees a.g.v. die wens van wyle Professor Jakes Gerwel – Sekretaris-Generaal in Nelson Mandela se kabinet. Die fees is gefokus daarop om die Kaapse Afrikaanse leefwêreld in sy volle verskeidenheid te vier en te ontwikkel; en om sosiale diversiteit en nasionale eenheid in en deur Afrikaans te beklemtoon en te bevorder. Dit trek jaarliks ’n groot aantal plaaslike kunstenaars en besoekers (+/- 15 000), waaronder nasionale en internasionale toeriste wat na die hart van Kaapstad kom. Verder verseker die Suidoosterfees die inklusiwiteit van alle spektrums van die kunste soos drama, letterkunde, fliek, komedie, kabaret, dans, musiekteater, populêre, sowel as tradisionele en klassieke musiek en ook visuele kuns. Ons poog om aan plaaslike en landelike gemeenskappe die geleentheid te gun om aan die fees deel te neem deur projekte aan te bied soos die koorkompetisie en talentsoektog. Die ATKV/Rapport-Harmonie-koorkompetisie fokus op gemeenskaps- en plaaskore van die landelike gebiede van die Wes-Kaap. Die hoofdoelwit van hierdie projek is om 'n volhoubare musiekgeletterdheid-opleidingsprogram vir koor praktisyns, kore en sangers te vestig. Die Suidoosterfees Talentsoektog fokus op jonger kunstenaars binne alle genres met die klem daarop om hulle deur ʼn proses van talentidentifisering, die ontwikkeling van daardie spesifieke talent en die aktivering daarvan te promoveer. 

Die Suidoosterfees is een van die ses grootste feeste in Suid-Afrika met ’n fokus op inklusiwiteit deur Afrikaans in alle sfere van die fees. Nieteenstaande gaan die Suidoosterfees voort om daarop te fokus om eg te bly aan die Kaapse kultuur en die Wes-Kaapse landskap van samesyn en eenheid in verskeidenheid.

 

Missie: Om ‘n soomlose kunstefees in ras, kultuur, klas, geloof en taal, met fokus op Afrikaans, vir jonk en oud daar te stel.

 

Visie: Om die Kaapse Afrikaanse leefwêreld in sy volle verskeidenheid te vier en te ontwikkel, en om sosiale diversiteit en nasionale eenheid in en deur Afrikaans te beklemtoon en te bevorder.

Vir verdere navrae of
meer inligting
kontak gerus ons kantoor

© 2019 Suidoosterfees. Created by Tinbird Creative