Voorwoord

Professor Brian Figaji – Voorsitter, SOF

Die Suidoosterfees is 15 jaar oud en ons tema vir 2018 is Fantastiese 15. As u hierdie program deurlees sal u besef dat daar baie meer as 15 fantastiese opvoerings aangebied word. Ons poog weereens om ons doelwitte van talentontwikkeling, gemeenskapsondersteuning en om die teater toeganklik vir almal te maak, te bereik. Die Suidoosterfees vind plaas vanaf 26 April tot 1 Mei 2018. Ons populêre Talentsoektog is uitgebrei en die gehalte van die talent wat ontdek is, maak ons baie opgewonde. Soos vantevore, sal verlede jaar se Talentsoektog-wenners op die groot verhoog deelneem. Hierdie feesprogram is uiteenlopend en daar is iets wat binne almal se smaak val: toneel, woordkuns, komedie, kabaret, klassieke en populêre musiek en nog vele meer! Ons nooi u graag uit om by ons aan te sluit om hierdie opwindende program te geniet en tegelykertyd Afrikaans die geleentheid te bied om eenheid onder ons te bevorder.

Patricia De Lille – Burgemeester, Kaapstad

Die Suidoosterfees is vanjaar 15 jaar oud: veels geluk met hierdie fantastiese prestasie! Hierdie eg-Kaapse fees is jaarliks ‘n baie belangrike gebeurtenis vir die Stad Kaapstad en haar mense. Dit vind plaas in die hartjie van die stad met ‘n klomp uitreikaksies en aktiverings wat strek oor die volle wydte van ons moederstad: vanaf die Noordelike tot die Suidelike voorstede, sowel as Langa en Mitchells Plain. Ons vier werklik die talent van die groter Kaapse metropool tydens hierdie gebeurtenis. Die Suidoosterfees stel nooit in die kwaliteit vermaak wat dit bied teleur nie. Met hierdie program wat onder andere legendariese kunstenaars soos Shaleen Surtie-Richards, Evita Bezuidenhout, Nataniël, Laurika Rauch en Camillo Lombard insluit, gaan dit beslis weer ‘n kunstefees wees waar die ryk diversiteit van ons kunste en kultuur as ‘n sielvoedende ervaring sonder grense beleef kan word.

The Suidoosterfees plays an integral role in our efforts to build an inclusive city by celebrating the rich diversity and talent of our people, arts and culture. It is indeed a key factor in affirming our status as the events capital of Africa. It also forms part of a greater offering which led to the City of Cape Town becoming the first city in Africa to be named a UNESCO City of Design, joining a total of 180 cities in UNESCO’s global Creative Cities Network. Events such as the Suidoosterfees make an invaluable contribution to our city being recognised for its commitment to promoting and developing the cultural and creative industries. Kom vier fees in die ware sin van die tema in hierdie 15de jaar: dit gaan #fabulous15 wees!

Willem Jordaan – Redakteur, Die Burger

Die Burger is baie trots daarop om vanjaar weer by die Suidoosterfees betrokke te wees – inderdaad ‘n Fantastiese 15! Die Suidoosterfees se 15de bestaansjaar is beslis iets om te vier en Die Burger deel graag daarin. Dié fees en die koerant stap immers al ‘n lang pad saam, waarop ons stories op ‘n belangrike manier ook deel van dieselfde storie geword het. Voor ‘n eg-Kaapse gehoor speel ons byvoorbeeld albei die rol van storieverteller met ‘n eg-Kaapse stem. Ons praat dieselfde taal, al is dit soms met ander aksente. En terwyl die Suidoosterfees met sy strewe na inklusiwiteit puik daarin slaag om mense van verskillende rasse, klasse en agtergronde bymekaar uit te bring, is dít ‘n projek waarby Die Burger ‘n besonderse aanklank vind. Ons sien dit as óns taak om mense van verskillende agtergronde méér van mekaar te laat verstaan. Om mense binne hoorafstand van mekaar te hou, en veral in Afrikaans. En as storievertellers is Die Burger en die Suidoosterfees ook vennote in dieselfde projek. Ons hou die spieël op om die wêreld, maar ook ons mense se plek daarin, krities te betrag.

Ons verteenwoordig ‘n onafgehandelde byeenkoms, ‘n onafgehandelde gesprek waar mense uit verskillende gemeenskappe mekaar kan hóór, mekaar kan raaksien en mekaar kan verryk. Dít vier ons met oorgawe. Want om jou blik op die wêreld te verruim, is bepaald die moeite werd – iets om oor fees te vier. Die Burger nooi u graag om deel van dié wonderlike storie te wees en saam te vier aan 15 puik jare. Mag dit vorentoe goed gaan met die fees en sy wonderlike mense.

Niël Rademan – Uitvoerende Hoof, SOF

Welkom by die 15de Suidoosterfees! Soos u kan sien is die tema heel gepas #fantastiese15 / #fabulous15 / #Uchunge chunge15. Ons is trots op Suid-Afrika se kulturele diversiteit; dit is juis die verskille wat ons kunslandskap meer en meer verbreed. Die Suidoosterfees het hierdie jaar ‘n groter verskeidenheid produksies waar alle kultuurgroepe van die Wes-Kaap bymekaar kan kom. Ons glo in eenheid in verskeidenheid en die samekoms van mense, nie net op die verhoog nie, maar in die konsertsale en voorportale van die Artscape in die hartjie van Kaapstad. Ons is ‘n fees wat die vonk in kinders se oë terugbring, geleenthede skep vir opkomende kunstenaars, en die beroemdes saam met die jonger generasie op die verhoog plaas. Hierdie eg-Kaapse fees spog vanjaar met ‘n simfoniekonsert, ‘n tango-aanbieding, Afrikaanse dramas, ‘n Kaapse Khoi Jazz-opvolgkonsert, Evita Bezuidenhout, Die Fledermaus (Johann Strauss II) asook die enigmatiese Nataniël. Kom wees fabulous by die 15de fantastiese Suidoosterfees en kyk of jy die tongklap in Uchunge chunge saam met ons kan doen!

www.nielrademan.com